back  

Spierweefsel

 

Wat is spier?

  Spierweefsel is gespesialiseerde selle waarvan die primêre funksie konstraksie is. Hierdie selle, genoem spiervesels, is verleng en parallel gerangskik. Die gekoördineerde kontraksie het beweging tot gevolg.

Spierweefsel kan geklassifiseer word op grond van voorkoms en plek van voorkoms. Gestreepte spier vertoon dwars strepe wat onder die mikroskoop sigbaar is, terwyl gladdespier dit nie vertoon nie.

Gestreepte spier kan verder verdeel word in skeletspier en hartspier. Skeletspier is onder willekeurige senuwee beheer en daar word dikwels na verwys as willekeurige spier.

Gladdespier is onder outonomiese senuwee beheer en beperk tot vissera en bloedvate.

  • Coetzee et al p131-149
  • Stevens and Lowe p65-76, 227-234
  • Wheater p97-115

Skeletspier

Skeletspiervesels is multinukluêre selle, waarvan die kerne direk onder die sarkolemma (selmembraan) geleë is. 'n Individuele vesel kan tot 35cm lank wees. 'n Volwasse spiervesel is saamgestel uit 'n groot aantal parallel verlopende miofibrille. Die miofibrille bestaan weer op hulle beurt uit oorvleulende parallel verlopende dun aktien filamente en dik miosien filamente. Die filamente word geanker aan spesifieke proteïene. Die funksionele eenheid van die fibril is die sarkomeer, wat tussen die twee Z-lyne voorkom.

'n Dun lagie bindweefsel, die endomesium, omring elke spiervesel. 'n Hele aantal spiervesels word saam gebondel om 'n fasciculus te vorm (meervoud fasciculi). Die bindweefsel laag wat die fasciculi omring staan bekend as die perimesium. 'n Individuele spier bestaan uit 'n aantal fasciculi wat omring word deur die epimesium, 'n dik digte bindweefsel kapsel. Die bindweefsel raamwerk is aaneenlopend met met die tendons en spier aanhegtings sodat die spierkragte gerig word na die been, vel, ensomeer.

Spiere is baie vaskulêr met bloedvate wat in verskeie bindweefsel lae verloop. Die verskillende tipes kan histologies gesien word deur gebruik te maak van histochemiese tegnieke. (Sien Wheater Fig 6.13, Stevens en Lowe Fig 13.4). Skeletspier sametrekking word gereguleer deur die intrasellulêre kalsium wat gestoor word in die T-tubule sisteem.


Hartspier

Hartspier is 'n vorm van gestreepte spier, maar verskil van skeletspier:
  1. Hartspier vesels bevat 'n enkele verlengde kern wat sentraal geleë is.
  2. Vesels kan longitudinaal vertak.
  3. Individuele hartspierselle is verbind, end-aan-end deur gespesialiseerde hegtingskomplekse wat bekend staan as interkalare diski.
  4. Die T-tubules is teenwoordig by die Z-lyn en nie by die A-I hegting nie.

Gladdespier

  Gladdespier vesels is spindelvormig met 'n enkele sentraal geleë kern. Die aktien en miosien filamente is in 'n netwerk dwarsdeur die sel gerangskik behalwe in die kern area, daarom vertoon gladdespierselle nie die gestreeptheid wat kenmerkend is van gestreepte spier nie.

Die filamente is geanker aan mekaar en aan die selmembraan deur digte liggaampies. Hierdie selle besit nie 'n T-tubule sisteem nie en maak staat op ekstrasellulêre kalsium vir sametrekking.


Spiersiektes

 
  • Duchenne spierdistrofie word veroorsaak deur defektiewe geen kodering vir distrofien wat die spier se aktien sitoskelet met die eksterne lamina verbind.

  • Myasthenia gravis is 'n outo-imuun siekte wat veroorsaak word deur die vormig van anti-liggaampies teen die acetielcholien reseptor van die motoreindplaat.

  • Ooraktiewe gladdespierselle in die wande van die klein lugweë veroorsaak asma.

Spier plaatjies

Plaatjie 18 Skeletspier: lengte- en dwarsnit
Lengtesnit

Dwarssnit

 

Plaatjie 19 Skeletspier: Ysterhematoksilien kleuring van die tongpunt om dwarsstrepe sigbaar te maak.
Lengtesnit en dwarssnit
 

Plaatjie 20 Hartspier: Lengtesnit.
 

Plaatjie 77 Hartspier: dwarssnit
 

Plaatjie 86 Hartspier: lengtesnit
 

Plaatjie 100 Gladdespier: dwarsnit deur die naelstring
 

back


© aug 2002 -2006 marius loots