back

Inleiding tot sitologie

In baie gevalle kan die binding tussen 'n kleurstof en die weefsel as'n ioniese binding beskou word. Kleurstowwe is gewoonlik neutrale soute en word geklassifiseer as basiese kleurstowwe as die 'kleur' in die positiewe (katioon) deel van die sout geleë is. Suur of asidiese kleurstowwe se "kleur" is in die negatiewe (anioon) deel van die sout geleë.

Basiese kleurstowwe reageer met anioniese komponente van weefsel bv nukleïensure (DNA & RNA). Hierdie komponente word dan as basofilies (hou van basiese kleurstowwe) beskryf.

Asidiese kleurstowwe reageer met kationiese komponente van weefsel bv die sitoplasma. Sulke komponente word dan asidofilies of eosinofilies genoem.

Die plaatjie onder die mikroskoop is 'n smeer van paddabloed wat met hematoksilien en eosien (H&E) gekleur is. Die selle is padda rooibloedselle.

Hematoksilien is 'n basiese kleurstof en kleur dus die kern blou-pers, terwyl eosien asidofilies is en die sitoplasma pienk kleur.

Op u plaatjie is die sitoplasma dus pienk en die kerne is die pers kolle binne in die pienk selle.

Dit is belangrik dat u die terme basofilies en asidofilies/eosinofilies ken en verstaan, want dit gaan regdeur u kursus gebruik word.

Die affiniteit van 'n weefsel komponent vir 'n spesifieke kleurstof word deur sy chemiese eienskappe bepaal. Nie alle kleurstowwe kleur alle weefsel komponente nie, terwyl die wat kleur nie almal met dieselfde intensiteit kleur nie. Alhoewel kollageenvesels en spiervesels beide asidofilies is en dus pienk kleur met H&E, is daar intensiteitsverskille. Die weefsel is sodoende gedifferensieer en kan ons, met 'n bietjie oefening, die verskillende komponente onderskei.


Indeks Molekuul tot Organisme         Inleiding | Onderdele | Werking | Inleiding tot sitologie

© julie mm marius loots